Toe ek ’n selfoon in die Midde-Ooste gekoop het, is ek die tipiese vrae gevra, naamlik: Naam? Nasionaliteit? Adres? Maar toe vra die klerk: “Wat is jou vader se naam?” Dié vraag het my verras en ek het gewonder waarom dit belangrik was. In ons Westerse  kultuur is ons pa’s se name nie belangrik nie, maar hier was dit nodig om my identiteit vas te stel. In sommige kulture is afkoms belangrik.

Die Israeliete het ook in die belangrikheid van herkoms geglo. Hulle was trots op hul aartsvader Abraham. Hulle het gedink dat hulle kinders van God was bloot omdat hulle deel was van Abraham se nageslag! Na hulle mening was hul menslike afkoms verbind aan hulle geestelike familie.

Honderde jare later toe Jesus met die Jode gepraat het, het Hy daarop gewys dat dit nie so vanselfsprekend was nie. Hulle kon sê Abraham was hul aardse vader, maar as hulle nie vir Hom – die Een wat deur die Vader gestuur is – lief was nie, was hulle nie deel van God se familie nie.

Dieselfde geld vandag. Ons kies nie ons menslike familie nie, maar ons kan die geestelike familie aan wie ons wil behoort, kies. As ons in die Naam van Jesus glo, gee God ons die reg om Sy kinders te word (Joh. 1:12).

Wie is jou geestelike vader? Het jy al besluit om Jesus te volg? Jy kan vandag kies om Jesus te vertrou vir die vergifnis van jou sondes en deel te word van God se familie.