Ek het onlangs op sommige van my kollegejoernale afgekom. Toe ek die inskrywings lees, het ek besef ek het nie tóé dieselfde oor myself gevoel as vandag nie. My stryd met eensaamheid en twyfel oor my geloof het destyds oorweldigend gevoel, maar as ek nou terugkyk, sien ek duidelik hoe God my na ’n beter plek geneem het. As ek sien hoe God my deur daardie dae gedra het, besef ek dat dit wat vandag oorweldigend voel, eendag deel sal wees van ’n groter beeld van Sy genesende liefde.

Psalm 30 is ’n herdenkingspsalm wat insgelyks met verwondering en dankbaarheid terugkyk op God se magtige verkwikking: van siekte na genesing, van doodsgevaar na die lewe, van die gevoel van God se oordeel na die genot van Sy guns – rou verander in vreugde (vs. 3-4, 12).

Dié psalm word aan Dawid toegeskryf, aan wie ons die mees smartgevulde klaagliedere in die Skrif te danke het. Maar Dawid het ongelooflike genesing ervaar en was in staat om te sê: “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer” (vs. 6). Ten spyte van al die pyn wat hy verduur het, het Dawid selfs iets groters ontdek – God se magtige hand van genesing.

As jy vandag pyn ervaar en bemoediging benodig, onthou daardie tye in jou verlede toe God jou na ’n plek van genesing gedra het. Bid vir vertroue dat Hy dit weer sal doen.