Gedurende 2002, ’n paar maande nadat my suster en haar man verongeluk het, het ’n vriend my genooi om ’n “Groei Deur Smart”-werkswinkel by te woon. Ek het teësinnig ingestem om die eerste sessie by te woon, maar het geen voorneme gehad om terug te gaan nie. Tot my verbasing vind ek ’n omgee-gemeenskap van mense wat streef om, met die hulp van God en ander, berusting in hul lewens te vind. Ek is, namate ek na aanvaarding en vrede gewerk het, week na week teruggelok deur die proses van ons gedeelde hartseer.
Nes die skielike verlies van ’n geliefde, het die dood van Stefanus, ’n dinamiese getuie vir Jesus, skok en hartseer vir dié in die vroeë kerk besorg (Hand. 7:57-60). In die aangesig van vervolging het “Godvresende mense vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou” (8:2). Dié manne van geloof het twee dinge saamgedoen: Hulle het Stefanus begrawe, ’n daad van finaliteit en verlies; en hulle het innig geween oor hom – ’n gedeelde uitdrukking van hul smart.
As volgelinge van Jesus hoef ons nie ons verliese alleen te dra nie. In opregtheid en liefde kan ons uitreik na ander wat droefheid ervaar, en in nederigheid kan ons die deernis van dié wat langs ons staan, ervaar.
As ons saamtreur, kan ons in begrip groei in die vrede wat ons s’n is deur Jesus Christus. Hy ken ons innige hartseer.