Toe ek ’n tiener was en deur uitdagings of besluite oorweldig is, het my ma my geleer om pen op papier te sit en dit sodoende in perspektief te sien. Toe ek onseker was oor spesifieke klasse wat ek wou neem of watter beroep om te volg, of hoe om die realiteit van volwassenheid te hanteer, het ek haar gewoonte aangeleer om die basiese feite en hul waarskynlike uitkomste neer te skryf. Nadat ek my hart op papier uitgestort het, was ek in staat om terug te staan en die probleem meer objektief as wat my emosies toegelaat het, te sien.

Net soos my aangetekende gedagtes vir my vars perspektief gegee het, sal ons, deur ons harte tot God in gebed uit te stort, Sy perspektief kry en aan Sy krag herinner word. Koning Hiskia het dit gedoen nadat hy ’n dreigbrief van ’n teenstander ontvang het. Die Assiriërs het gedreig om Jerusalem te verwoes. Hy het die briewe voor die Here oopgesprei en biddend ’n beroep op Hom gedoen om hulle te red sodat die wêreld Hom “alleen [as] God” sal erken (vs. 19).

Laat ons, wanneer ons gekonfronteer word met ’n situasie wat angs, vrees, of ’n bewustheid dat ons nie die krag het wat dit verg om daardeur te kom nie, in Hiskia se voetspore volg en na die Here toe gaan. Soos hy, kan ons ook ons probleem voor die Here lê en Hom vertrou om ons te lei en ons angstige harte te kalmeer.