Ek bewonder die vrugte in ons buurman se erf. Hul wingerd met groot trosse druiwe aan rank oor ons heining en takke vol pers pruime en oranje lemoene wink binne ons bereik.

Ons versorg nie die grond, plant die sade, lei die tuin nat of roei die onkruid uit nie, tog deel ons bure hul oorvloed met ons. Hulle aanvaar die verantwoordelikheid om hul bome en plante  te versorg, en laat ons toe om ’n deel van hul oes te geniet.

Dit herinner my aan ’n ander oes wat my, asook die mense wat God in my lewe plaas, bevoordeel. Dit is die oes van die vrug van die Gees.

Christus se volgelinge kry deel aan die voordele wat gelewer word wanneer ’n mens deur die krag van die Heilige Gees lewe (Gal. 5:16-21). Soos wat God se saad van waarheid in ons hart floreer, vermeerder die Heilige Gees ons vermoë om “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (vv. 22-23) uit te leef.

Wanneer ons ons lewe aan Jesus oorgegee het, word ons nie meer deur ons eie hartstogte en begeertes beheers nie (v. 24). Die Heilige Gees verander algaande ons gedagtes, ons ingesteldheid en ons dade. Soos wat ons groei en volwasse raak in Christus, ontvang ons die verdere blydskap van liefde vir ons naaste en om die voordele van Sy oorvloedige oes met hulle te deel.