Ek het jare lank ’n storie vertel van ’n tyd in Ghana toe ek en my broer nog peuters was. Volgens wat ek kan onthou, het hy ons ou ysterdriewiel bo-op ’n kobra geparkeer.
Nadat my ma oorlede is, het ons afgekom op ’n langverlore brief waarin sy oor die insident geskryf het. In werklikheid was dit ék wat die fiets op die slang geparkeer het terwyl my broer haar daarvan gaan vertel het. As ooggetuie het haar verslag, wat sy kort ná die insident neergeskryf het, die waarheid blootgelê.
Lukas, as ’n historikus, het die belangrikheid van akkurate verslaggewing verstaan. Hy verduidelik dat die verhaal van Jesus opgeteken en “aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies was” (Luk. 1:2). Hy skryf aan Teofilus hy het dit “ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is” (vv. 3-4). Die evangelie van Lukas was die resultaat daarvan. Oor Jesus sê Lukas: “Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe” (Hand. 1:3).
Ons geloof is nie op hoorsê en wensdenkery gegrond nie. Dis gewortel in die goed gedokumenteerde lewe van Jesus, wat gekom het vrede tussen ons en God te bring. Sy verhaal staan vas.