Ek dink nie outomaties aan ’n voël se vlerke wanneer ek aan beskerming dink nie. Al wil dit voorkom asof ’n voël se vere maar ’n niksbeduidende vorm van beskerming is, skuil daar veel meer daaragter as wat die blote oog kan sien.
Voëls se vere is ’n verstommende voorbeeld van God se kreatiwiteit. Die vere het ’n gladde asook ’n donsige deel. Die gladde deel van die veer het stywe baarde met klein hakies wat soos ’n ritssluiter se tandjies ineensluit. Die donsige deel hou die voël warm, en saam beskerm albei dele van die veer die voël teen wind en reën. Kuikens is met dons bedek en hul vere het nog nie ten volle ontwikkel nie. Die moedervoël moet haar kuikens dus met haar eie vere in die nes oordek om hulle teen die wind en die reën te beskerm.
Die beeld van God wat ons “onder sy vleuels” beskut (Ps. 91:4; 17:8), spreek van troos en beskerming. Dit roep die beeld op van ’n moederhen wat haar kleintjies met haar vere beskerm. Nes ’n ouer wie arms ’n veilige heenkome bied tydens ’n storm of wanneer die kind seerkry, so bied God se vertroostende teenwoordigheid veiligheid en beskerming tydens die lewe se emosionele storms.
Al word ons met probleme en hartseer gekonfronteer, kan ons hulle sonder vrees aanpak, mits ons ons gesigte na God draai. Hy is ons skuilplek (91:2, 4, 9).