Toe ons by die parkeerterrein uitry, het my man die spoed verminder om vir ’n jong vrou op haar fiets te wag. Tom het geknik en gewys dat sy maar kon ry. Sy het geglimlag, gewaai en gery. Oomblikke later het die bestuurder van ’n geparkeerde voertuig sy motordeur oopgegooi en die jong fietsryer is teen die sypaadjie geslinger. Haar bene was bebloed, en huilend het sy haar verwronge fiets ondersoek.

Ons het later nagedink oor die ongeluk: As ons haar maar laat wag het ... As die bestuurder maar gekyk het voordat hy die deur oopgegooi het ... As ... Probleme veroorsaak dat ons vasgevang raak in ’n mallemeule van selfbevraagtekening. As ek maar geweet het my kind was saam met tieners wat gedrink het ... As ons die kanker maar vroeër ontdek het ...

Wanneer probleme onverwags opduik, bevraagteken ons soms God se goedheid. Ons kan selfs die wanhoop wat Marta en Maria ervaar het toe hul broer dood is, voel. Ag, as Jesus maar gekom het toe Hy die eerste keer gehoor het dat Lasarus siek is! (Joh. 11:21, 32).

Net soos Marta en Maria verstaan ons nie altyd waarom slegte dinge met ons gebeur nie. Ons kan egter in die seker kennis rus dat God Sy planne altyd ten goede laat meewerk. Ons kan in elke omstandigheid die wysheid van ons getroue en liefdevolle God vertrou.