In Australië kan ’n reis tussen twee dorpe ure duur, en uitputting kan tot ongelukke lei. Gedurende besige vakansietye word rusplekke langs die hoofweë aangebring waar vrywilligers gratis koffie aanbied. Ek en my vrou, Merryn, het op ons lang reise uitgesien na hierdie rustye.

Tydens ’n reis het ons afgetrek en oorgestap om ons koffie te bestel. Die dame het twee koppies oorhandig en my toe R32 gevra. Ek wou weet waarvoor. Sy het na die klein skrif op die bord gewys. By daardie rusplek kry net die bestuurder gratis koffie. Die passasiers moet betaal. Ek het my vererg en haar vertel dat dit ’n vals advertensie is en die R32 betaal. By die motor het Merryn my op my fout gewys: ek het ’n geskenk as ’n reg geëis en ondankbaar geraak vir wat ek ontvang het. Sy was reg.

Toe Moses die Israeliete na die Beloofde Land lei, het hy by hulle aangedring om dankbare mense te wees (Deut. 8:10). Danksy God se seën het die land oorvloed gebied. Hulle kon egter hierdie voorspoed hanteer asof hulle dit verdien het (vv. 17-18); daarom het die Jode in die gewoonte gekom om vir elke ete – hoe gering ook al – dankie te sê. Hulle het dit as ’n geskenk beskou.

Ek het teruggestap en die dame om verskoning gevra. ’n Gratis koppie koffie was ’n geskenk wat ek nie verdien het nie, en iets om voor dankbaar te wees.