My voorbereiding vir die langafstandresies het nie na wense gevorder nie; daarby was ek besonder teleurgeteld met die afloop van die laaste een. Ek het die helfte van die tyd gestap en moes op ’n keer selfs gaan sit. Dit het vir my gevoel asof ek ’n mini-toets gedruip het.

Dit is toe dat ek onthou het dat dit presies die punt is waarom ’n mens oefen. Ons oefen nie om ’n toets te slaag nie, en daar is ook nie ’n bepaalde prestasie wat ek moet bereik nie. Veel eerder is dit iets waardeur ek eenvoudig moet gaan, keer op keer, om my uithouvermoë te verbeter.

Miskien gaan dit as gevolg van ’n beproewing waarmee jy te doen het nie goed met jou nie. God laat toe dat ons hierdie tye van toetsing ondervind om ons geestelike spiere en uithouvermoë te versterk. Hy leer ons om op Hom te vertrou, en Hy heilig ons sodat ons al hoe meer soos Christus word.

Geen wonder nie dat die psalmis God kon loof omdat Hy die Israeliete, terwyl hulle onder slawerny en ballingskap gely het, deur vuur en water gelouter het (Ps. 66:10). God het hulle nie net bewaar en hulle na ’n plek van oorvloedige oorvloed geneem nie, Hy het hulle in die proses ook gereinig.

Wanneer ons getoets word, kan ons op God vertrou. Hy sal ons met krag en uithouvermoë toerus. Hy louter ons tydens die moeilikste tye.