Die heelal is ongelooflik groot. Op dié oomblik wentel die maan teen byna 3700 kilometer per uur om ons. Ons aarde draai teen  106 000 kilometer per uur om die son. Ons son is een van 200 miljard ander sterre en triljoene meer planete in ons sterrestelsel, en dié sterrestelsel is net een van 100 miljard ander wat deur die ruimte wentel. Verstommend!

In vergelyking met dié ontsaglike kosmos is ons klein aarde nie groter as ’n klippie nie, en ons individuele lewens nie groter as ’n sandkorrel nie. Tog, volgens die Skrif gee die God van die sterrestelsels aandag aan elke mikroskopiese een van ons, in intieme besonderheid. Hy het ons gesien toe ons ongebore was ​​(Ps. 139:13-16); Hy sien ons waar ons ook al gaan en luister na elke gedagte (vs. 1-6). 

Dit kan soms moeilik wees om dit te glo. Dié klein “klippie” het groot probleme soos oorlog en hongersnood, en ons kan God se sorg ten tyde van persoonlike lyding bevraagteken. Maar toe Koning Dawid Psalm 139 geskryf het, was hy self midde in ’n krisis (vs. 19-20). Toe Jesus sê dat God elke haar op ons koppe tel (Matt. 10:30), het Hy in ’n era van kruisiging geleef. Bybelse mening van God se deernis is nie ’n naïewe wensdenkery nie. Dit is die werklike waarheid. 

Die Een wat die sterrestelsels aan die wentel hou, ken ons intiem. Dít kan ons help deur ons slegste tye.