’n Vrou wat ’n begeerte gehad het om te bid gryp na ’n leë stoel en kniel daarvoor. In trane, sê  sy, “My Hemelse Vader, sit asseblief hier; ek en U móét praat!” Toe, kyk sy reguit na die leë stoel en begin bid. Sy het haar vertroue in die toeganklikheid tot die Here uitgebeeld; sy het haar verbeel Hy sit op die stoel en geglo Hy luister na haar smeking.

’n Tyd saam met God is ’n belangrike oomblik wanneer ons gemeenskap het met die Almagtige. God nader ons as ons Hom nader in ’n wedersydse betrokkenheid (Jakobus 4:8). Hy het ons verseker: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20). Ons hemelse Vader wag altyd vir ons om Hom te nader en is altyd gereed om na ons te luister.

Daar is tye wanneer ons sukkel om te bid, want ons voel moeg, vaak, siek of swak. Maar Jesus simpatiseer met ons wanneer ons swak is of as ons versoekings in die gesig staar, “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie” (Hebreërs 4:15). Daarom kan ons “met vrymoedigheid na die genadetroon [kom], sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Hebreërs 4:16).