Nadat hy ontvoer, vir dertien dae as gyselaar aangehou en vrygelaat is, het ’n Nieu-Seelandse nuuskameraman, Olaf Wiig, met ’n breë glimlag op sy gesig, aangekondig: “Ek voel nou meer lewend as wat ek in my hele lewe gevoel het.”

Vir redes wat moeilik is om te verstaan, is om bevry te word meer opwindend as om vry te wees.

Vir diegene wat elke dag vryheid geniet, is Olaf se vreugde ’n duidelike voorbeeld van hoe maklik ons vergeet hoe geseënd ons is. Geestelik is dit ook waar. Diegene van ons wat al ’n geruime tyd Christene is, vergeet dikwels die gevoel om deur die sonde gyselaar gehou te word. Ons kan soms selfvoldaan en selfs ondankbaar word. Maar dan stuur God ’n herinnering in die vorm van ’n nuwe gelowige wat ’n uitbundige getuienis lewer van wat God in sy of haar lewe gedoen het, en weereens sien ons die vreugde wat ons as “vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Romeine 8:2) ervaar.

As vryheid vir jou vervelig raak, of as jy geneig is om te fokus op wat jy nie kan doen nie, oorweeg dít: Nie net is jy nie meer ’n slaaf van die sonde nie, maar is jy vry om heilig te wees en om die ewige lewe met Christus Jesus te geniet! (Romeine 6:22).

Vier jou vryheid in Christus deur tyd te maak om God te dank vir die dinge wat jy kan doen en vry is, om as Sy dienaar, te doen.