Tydens die rit van twee ure huis toe, het my ma my vir ’n derde keer gevra of my werk iets nuuts opgelewer het. Terwyl ek weereens van die gegewens herhaal het asof ek dit vir die eerste keer aan haar vertel, het ek gewonder hoe ek haar kon help om dit te onthou. My ma het Alzheimersiekte – ’n siekte wat die geheue toenemend vernietig, gedrag negatief kan beïnvloed en uiteindelik tot die verlies van spraak en veel meer kan lei.
Ek treur oor my ma se siekte, maar is dankbaar dat sy steeds hier is en dat ons saam kan kuier en selfs gesels. Dit maak my opgewonde wanneer ek gaan kuier en sien hoe haar gesig verhelder en sy uitroep: “Alyson, watter aangename verrassing!” Ons geniet mekaar se geselskap, en selfs tydens die stiltes wanneer woorde haar ontglip, beoefen ons onderlinge gemeenskap.
Miskien beeld dit iets uit van ons verhouding met God. Die Skrif vertel ons: “… Hy stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hulle hoop vestig op sy trou” (Ps. 147:11). En in Johannes 1:12 word ons verseker dat as ons in Jesus as ons Verlosser glo, is ons God se kinders. En al vra ons oor en oor dieselfde dinge of ontbreek woorde ons, bly Hy geduldig omdat Hy ’n liefdevolle verhouding met ons gesluit het. Dit maak Hom bly wanneer ons deur gebed met Hom gesels, selfs al ontglip woorde ons soms.