“Ek kan niemand vertrou nie,” het my vriendin in trane gesê. “Ek kry elke keer seer.” Ek het kwaad geword toe sy my vertel dat haar gewese kêrel stories oor haar begin versprei het nadat die kys verbreek is. Sy het gedink sy kon hom vertrou! Ná moeilike kinderjare was dit nie maklik om ander te vertrou nie, en hierdie verraad was net nog ’n bewys dat mense nie vertrou kan word nie.
Hoe kon ek haar bemoedig? Ek kon definitief nie met haar stry en sê dat die meeste mense heeltemal gaaf en betroubaar is nie. Haar verhaal was pynlik bekend en het my herinner aan onverwagse verraad in my eie lewe. Die Skrif is baie eerlik oor die menslike natuur. Die klag van die Spreukeskrywer stem ooreen met dié van my vriendin, en daarmee verewig hy die pyn van verraad (20:6).
Wat ek wel kon sê is dat ander se wreedheid net deel is van die storie. Hulle maak ons seer, maar Jesus het opregte liefde moontlik gemaak. Hy het Sy dissipels verseker: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh. 13:35). Danksy Jesus sal daar altyd diegene wees wat Sy liefde vrylik uitdeel en ons onvoorwaardelik ondersteun en versorg. As ons in Sy getroue liefde rus, word ons gesond, het ons gemeenskap met Hom en kry ons die moed om ander lief te hê soos Hy hulle liefhet.