Indien jy mense wil ontstel, bedreig dan net hulle ekonomiese situasie. ’n Swak ekonomiese prentjie het al daartoe gelei dat politici uit hulle poste verwyder is. So het dreigemente dat die ekonomie in Efese ineen sal stort, die gemeenskap so opgesweep dat Paulus byna uit Efese verdryf is. Hier is wat gebeur het. Paulus het na die stad gekom en in die sinagoge met die Jode geredeneer en die evangelie van Jesus verkondig (Hand. 19:8). Vir langer as twee jaar het hy die boodskap uitgedra. Omdat hy daarin geslaag het om inwoners te laat insien dat daar net een ware God is en dat die godin Diana ’n valse god is, het die lokale silwersmede skade gely. Hulle het afgodsbeelde van Diana gemaak en verkoop, en was bevrees dat as baie mense ophou om in Diana te glo, en nie meer die beelde koop nie, sou hulle besighede te gronde gaan. Daarom het daar ’n oproer ontstaan. Hierdie insident in Efese herinner ons daaraan dat ons die redes waarom ons die Here aanbid, moet ondersoek. Die mense in Efese wou hulle godsdiens beskerm sodat hulle nie finansiëel skade ly nie. Mag dit nooit van ons gesê word nie. Moenie toelaat dat jou godsdiens vir jou ’n wyse word om rykdom en voorspoed te verseker nie. Ons aanbid God omdat Hy ons liefhet en omdat Hy is Wie Hy is, en nie sodat ons ekonomies voordeel kan trek nie. Kom ons aanbid Hom op die regte wyse.