’n Britse skattejagter het ’n groot hoeveelheid Romeinse muntstukke in ’n veld in die suidweste van Engeland ontdek. Dave Crisp het ’n metaal detektor gebruik en op ’n groot pot afgekom met 52,000 muntstukke daarin. Die antieke silwer en brons geldstukke, wat uit die derde eeu n.C. dateer, weeg meer as 700 kilogram en die waarde word bereken op $5 miljoen. Terwyl Crisp se ongelooflike ontdekking ons miskien laat droom oor die moontlikheid om ook so ’n kosbare skat te ontdek, weet ons dat ons, as Christene, ’n ander tiepe skat najaag. Dit wat ons soek, bestaan nie uit silwer of goud nie. In plaas daarvan soek ons na die kosbare skatte van wysheid sodat ons “diep en volledige insig” kan verkry en so “God se geheimenis kan ken” (Kol. 2:2,3). Die verborge skat van wysheid, om Christus beter te ken, kan slegs in die Bybel gevind word. Daarom het die psalmdigter uitgeroep: “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het” (Psalm 119:162). Indien ons gejaagd is wanneer ons God se Woord lees, sal ons die verborge skatte miskyk. Daardie waarhede moet met erns en toewyding gesoek word, net soos wat ’n fortuinsoeker na aardse skatte sal soek. Is jy gretig om die skatte in die Bybel te ontdek? Is dit vir jou erns? Wel, begin dan vandag om te spit! –