Pla dit jou as jy sien dat so baie aandag aan verkeerde dinge bestee word en veral ook aan mense wat die korrupte onderskryf? Moontlik is dit persone wat in die vermaaklikheidswêreld bekendheid verwerf, maar immorele filosofieë in hulle musiek, films of videos toelaat. Of dit kan ook politieke leiers wees wat openlik ’n verkeerde rigting inslaan en negatiewe lewensstandaarde bevorder. Dit sou so maklik wees om ons daaroor te ontstel en ons hande desperaat saam te slaan, maar Psalm 37 leer ons dat daar ’n beter manier is. Luister na die wyse raad wat Dawid gee: “Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie” (vs. 1). Alhoewel dit reg is om “sout en lig” in hierdie wêreld te wees (Matt. 5:13,14) en Jesus se lig te reflekteer, mag ons nie toelaat dat al hierdie negatiewe magte ons daartoe bring om kwaad te word en met woede te reageer (Ps. 37:8) nie. Laat ons liewer die Here toelaat om met hulle af te reken: “Want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer” (vs. 2). Laat ons liewer Dawid se raad volg: “Vertrou liewer op die Here en doen … goed” (vs. 2,3) “vind jou vreugde in die Here” (vs. 4) “laat jou lewe aan die Here oor,” (vs. 5) “en werk rustig voort” (vs. 3). Ons mag miskien ongelukkig voel oor dinge wat in die samelewing aangaan, maar onthou net een ding: Die Here is in beheer. Vertrou op Hom en doen wat reg is.