Ek het gou agtergekom dat die jong seun wat tydens ’n Bybelstudie vir kinders uit die Bybel aangehaal het, nie veel van die Bybel weet nie. Hy het Efesiërs 6:17 gekwoteer toe ons die Christen se wapenrusting bestudeer het. “Vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God”. Toe hy die verwysing moes aanhaal het hy gesê: “Ek het nie gedink ek moes die nommers memoriseer nie. Dis immers net die tyd van die dag.” Hy het gedink die letters verwys na die tyd, juis omdat dit op daardie stadium 6:17nm. was. Ek het geglimlag, my Bybel oopgemaak en aan hom getoon dat die nommer eintlik na die hoofstuk en teksvers verwys. Alhoewel teksverwysings belangrik is en dit goed is om te weet waar spesifieke tekste geskrywe staan, is dit belangriker dat ons God se Woord in ons harte moet bewaar (Psalm 119:11). Om Skrifgedeeltes te memoriseer help ons sodat ons die aanslae van Satan kan afweer (Efesiërs 6:10-18). Byvoorbeeld toe Satan Jesus in die woestyn versoek het, het Jesus sy aanslag weerstaan deur uit die Bybel te kwoteer (Matt. 4:1-11). Net so kan ons ook, wanneer ons versoek word om ongehoorsaam te wees, dink aan dit wat ons geleer het en kies om te doen wat God vra. Ons kan ook die leerstellings van die Bybel met ander deel en hulle aanmoedig om Hom te vertrou. Maak nie saak wat die tyd van die dag is nie, ons moet altyd die geestelike wapenrusting van die Woord opneem en daaraan vashou.