Ek het eendag vir my seunjie ’n goedkoop model van die hemelruim gekoop. Om dit op te stel, moes elke planeet aan die plafon vasgeheg word. Ek moes verskeie kere neerbuk en dan weer na bo uitstrek om die planete vas te heg. Spoedig het ek moeg en duiselig geword. ’n Paar uur later het ons ’n slag gehoor. Dit was Jupiter wat op die vloer neergeval het. Later die aand het ek nagedink oor hierdie pieperige namaaksel van die heelal en dit vergelyk met die regte heelal en hoe Jesus dit in stand hou: “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand” (Kolossense 1:17). Ons Here hou die heelal in stand en ook al die natuurlike wette wat die melkweg en sonnestelsel beheer. Die Skepper is in volle beheer van die heelal deur net eenvoudig die magswoord te spreek (Hebreërs. 1:3). Wat verbasend is, is dat die Here nie net die skepping beheer nie, maar ook vir ons. “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem … gee” (Handelinge 17:25). Somtyds voorsien Jesus vir ons op ’n ander manier as wat ons gehoop het, maar ons Verlosser hou ons staande ten spyte van gebrokenheid, armoede en siekte. Tot op daardie wonderlike dag wanneer Hy ons huis toe roep, kan ons op Hom vertrou, Hy wat Jupiter en al die hemelliggame op koers hou en verhoed dat hulle uit die hemel val.