’n Paar jaar gelede is daar in ons gemeente ’n reeks dienste oor die Ou Testamentiese Tabernakel aangebied. Voordat ons die gedeelte oor die toonbrode behandel het, het ek iets gedoen wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie. Ek het vir ’n paar dae gevas. Ek het dit gedoen omdat ek wou ondervind wat die Bybel sê naamlik “dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom” (Deut. 8:3). Ek wou iets waarvoor ek baie lief was, prysgee ter wille van die Here vir wie ek liewer is. Terwyl ek gevas het, het ek Jesus se lering oor vas in Matteus 6:16-18 nagevolg. Jesus het ’n negatiewe bevel gegee: “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie”(Matt. 6:16). Toe het Hy ook ’n positiewe bevel gegee naamlik dat jy jou gesig moet was en jou hare versorg sodat niemand sien dat jy vas nie (vs. 17). Hierdie opdragte wys daarop dat ons nie die aandag op onsself moet vestig nie. Jesus leer ons dat dit ’n private saak is, iets wat ons doen om Jesus te verheerlik en nie om selftevrede en hoogmoedig te voel nie. Dan gee Hy die belofte dat die Vader in die hemel sien wat jy doen en dat Hy jou sal beloon. Alhoewel vas nie ’n vereiste vir die Christen is nie, gee ons iets prys sodat ons in ’n dieper verhouding met God kan staan. Hy beloon ons deur Homself aan ons te gee.