Ek sien altyd so uit na die somer. Die lekker sonskyn, bofbal, braaivleis en die strand, verskaf vreugde na ’n lang en ysige winter. Maar om plesier te ondervind is nie net in die somer moontlik nie. Geniet ons dan nie almal lekker kosse, aangename geselskap en ’n gesellige vuur in die kaggel nie? Die verlange na plesier is nie verkeerd nie. God het ons immers so geskep. Paulus herinner ons daaraan wanneer hy skryf dat ons ons aandag op God moet vestig wat “alles ryklik aan ons gee om te geniet” (1 Tim. 6:17). Ander Skrifgedeeltes verseker ons dat lekker kos, goeie vriende en ’n gelukkige huwelik ook die Here se plan vir ons is. Maar om te dink dat ons blywende vreugde en vrede in hierdie dinge kan vind, is nie waar nie. Uiteindelik is alles ’n gejaag na wind. Ware vreugde word nie in die plesiere van die wêreld gevind nie, maar eerder in ons verhouding met die Here, ’n verhouding wat steeds moet verinnig. Salomo het hierdie waarheid op ’n pynlike wyse geleer. Hy bely in Prediker 2 vers 10: “Ek het my geen plesier ontsê nie.” Maar na sy gejaag na plesier moes hy erken: “Alles [was] niks, ’n gejaag na wind” (Pred. 2:11). Daarom waarsku die Bybel ons: “Wie plesier voorop stel, word arm; wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie” (Spreuke 21:17). Die enigste iets wat regtig bevrediging bied is ’n groeiende verhouding met Jesus. Soek Hom en geniet sy teenwoordigheid.