My vriendin wat saam met my gereis het, was ’n bietjie verward en onseker. Toe ons by die lughawe aankom het sy vergeet om haar identifikasiekaart beskikbaar te hê en sy kon ook nie haar besprekingsnommer vind nie. Die persoon by die kaartjie toonbank was baie geduldig en het haar toe by die aanmeldtoonbank deurgehelp. Nadat sy eindelik haar kaartjie ontvang het, het sy gevra: “Waarheen gaan ons nou?” Die agent het geglimlag en na my gewys. “Bly net naby jou vriendin.” Dis goeie raad vir ons almal. Wanneer ons verward en onseker voel, bly naby jou vriende. Alhoewel Jesus ons beste Vriend is, het ons almal verhoudinge met ander Christene nodig sodat ons staande kan bly in hierdie verwarde wêreld. In sy eerste boek gee Petrus raad aan gelowiges wat deur moeilike tye gegaan het en gely het ter wille van hulle geloof. Hy sê Christene moet “mekaar hartlik liefhê … gasvry wees … en (4:7-9) mekaar dien”. Hy sê ook dat diegene wat ’n gawe van God ontvang het, dit moet gebruik om ander te help (vs.10). In ander gedeeltes word ons aangemoedig om mekaar te bemoedig “met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig” (2 Kor. 1:3-4). Ons moet mekaar ook moed inpraat en mekaar versterk (1 Tess. 5:11). Wanneer die lewe moeilik word en ons ontsenu voel, is dit goeie raad om naby ons Christenvriende te bly. Hulle sal ons help om alles te hanteer.