Die afgelope 29 jaar hou ons stad steeds ’n Viering van die Lewe reünie en elke jaar word lede van ’n unieke familie so bymekaargebring. Hierdie besondere byeenkoms bring dokters, verpleegsters en staf van die Colorado Springs Gedenkhospitaal vir Kinders weer in aanraking met pasiënte wat vroëer in die intensiewe sorg eenheid versorg is. Party is nog babas in stootwaentjies terwyl ander reeds in hulle vroeë tienderjare is. Ouers bring hulle kinders om dank te betuig teenoor diegene wat die kinders se lewens gered en hulle ’n nuwe kans op die lewe gebied het. Edward Paik het ’n artikel in die Gazette gepubliseer waarin hy dr. Bob Kiley se reaksie aangehaal het: “Op persoonlike en professionele vlak, kan al die staf getuig dat dit die rede is waarom ons hierdie belangrike taak verrig.” Ek wonder soms of daar ook in die hemel geestelike versorgers sal wees wat weer in aanraking sal kom met die “babas in Christus” wat hulle op aarde versorg het en saam met wie hulle die Here sal prys. Ons lees in die Nuwe Testament hoe Paulus, Silvanus en Timoteus onder die jong gelowiges in Tessalonika gewerk het net soos “’n ma wat haar kinders vertroetel” (1 Tess. 2:7) en hulle versterk en bemoedig het soos “’n pa sy kinders” (1 Tess. 2:11). Om nuwe gelowiges op ’n kritieke tydstip in hulle geloofslewe te help is ’n taak van liefde wat eendag groot vreugde in die hemel tot gevolg sal hê.