Yves Rossy het iets reggekry waaroor baie mense al gedroom het, maar niemand nog kon regkry nie, sedert die tyd toe die mite van Icarus alombekend was. Hy het die reggekry om te vlieg! Rossy het vir homself vlerke gebou met ’n enjin daaraan geheg. Sy liggaam word as die raamwerk vir die vliegtuig gebruik. Die vlerke is agter aan sy hittebestande oorpak vasgeheg. Sy eerste vlug het in 2004 naby Geneve in Switserland plaasgevind en sedertdien het hy verskeie suksesvolle vlugte onderneem. Die psalmdigter het ook verlang om vlerke te hê, sodat hy kon wegvlieg, veral gedurende die tyd toe hy op vlug was voor sy vyande, hulle wat sy dood verlang het. Toe het die koning van Israel uitgeroep: “As ek maar vlerke soos ’n duif gehad het … sou ek wegvlieg” (Psalm 55:7). Soos Dawid wens ons ook soms dat ons vlerke gehad het en kon wegvlieg, veral wanneer ons beproewinge, druk en frustrasies beleef. Maar Jesus bied ons ’n baie beter opsie. Hy sê ons moet ons toevlug na Hom toe neem. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My … en julle sal rus kry vir julle gemoed” (Matt. 11:28,29). In plaas van om te wens dat jy kon wegvlieg, kom na Jesus en bring jou probleme na Hom toe. Om te ontsnap bied nie rus nie. Net Jesus gee rus.