’n Bejaarde TV ster is deur Larry King, gasheer van die gespreksprogram, uitgevra aangaande die hemel. King het na Billy Graham verwys wat aan hom gesê dat hy “weet wat die toekoms inhou. Dit sal die paradys wees. Hy is onderweg na die hemel.” King het toe aan sy gas gevra: “Wat glo u?” Die man het geantwoord. “Ek hou van aktiwiteit en beweging. Die hemel klink vir my te rustig. Daar is baie in die hel te doen.” Hartseer om te sê dat daar baie mense is wat hierdie man se siening deel en dink dat Satan se ryk aanlokliker is en dat hulle liewer in die hel sou wou wees, omdat hulle vriende daar sal wees. Een persoon het geskryf: “Indien daar wel ’n hel is, dink ek nie dit sal so sleg wees nie. Daar sal beslis baie interessante mense daar wees.” Ja, hoe kan ons mense oortuig dat die hel en al die verskriklike dinge daar, vermy moet word? Miskien deur hulle te vertel wat die Bybel alles oor die hel te sê het. In Daniël 12:2 word hel beskrywe as ’n plek “van ewige skande en veragting.” Lukas 16:23 praat van “pyn” en vers 24 van die verskriklike vuur. Matteus 8:12 vertel van die plek waar “hulle sal huil en op hulle tande sal kners”. Openbaring 14:11 sê daar is “geen rus nie.” Die Bybel laat niemand toe om te dink dat die hel ’n goeie plek sal wees nie. Dis beslis ’n slegte keuse om Jesus te verwerp en die ewigheid in die hel deur te bring.