Vroeg in 1994 het ons gehoor dat die VSA se sokkerspan in Michigan in die wêreldbeker sou speel, en dit was ’n uitgemaakte saak dat ons dit sou bywoon. Wat ’n aangename tyd het ons nie gehad nie. Daar in die Pontiac Silverdome het ons gesien hoedat die VSA teen Switserland speel. Dit was een van die wonderlikste ondervindinge wat ons beleef het. Daar was net een probleem. Een van ons 4 kinders, die 9 jarige Melissa, kon nie saam met ons gaan nie. Terwyl ons die wedstryd geniet het, was dit nie dieselfde sonder haar nie. Ons het hartseer gevoel omdat sy nie by ons was nie. Wanneer ek terugdink aan daardie dag, dan voel dit vir my asof die gemis wat ons daardie dag beleef het byna dieselfde is as dit wat ons tans ondervind, noudat ons kosbare dogter uit hierdie wêreld weg is. Sy het agt jaar na daardie dag, in ’n motorongeluk gesterf. Alhoewel ons God se hulp en ontferming en die moed wat Hy in alle omstandighede gee (2 Kor. 1:3) waardeer, kan selfs daardie groot troos nie die hartseer oor haar leë stoel heeltemal wegneem nie. Die Bybel sê nie dat God alle hartseer uit hierdie lewe wegneem nie, maar wel dat Hy getrou is en dat Hy ons sal bystaan. Indien jy onlangs ’n geliefde verloor het, hou vas aan die Here. Vertrou steeds op Hom. Maar onthou dat dit reg is om hartseer te voel. Beskou dit as nog ’n rede waarom jy al jou laste op Hom kan plaas.