Ek was besig om die eerste hoofstuk van Jakobus te lees toe ’n sinsnede my diep getref het naamlik dat ek “ootmoedig die woord [moet] aanneem wat God in [my] geplant het, want dié woord kan [my] … red” (vs. 21). Ek het juis daardie tyd met ’n probleem geworstel en toe het die gedagte my te binne geskiet: Ek het nie ’n ander boek, of ’n ander seminaar of die hulp van ’n vriend nodig nie. Ek moet doen wat die Bybel my beveel om te doen. Deur my pogings om beter ingelig te wees, was ek in werklikheid besig om God se wil te weerstaan, in plaas van om dit nederig te ontvang en te gehoorsaam. Jakobus het aan volgelinge van Jesus geskryf toe hy gesê het: “Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself” (Jakobus 1:21,22). Bybelkenner W. E. Vine sê dat die Griekse woord wat vir aanneem (receive) gebruik is, beteken om iets “met voorbedagte rade en gewilliglik” aan te neem. Sagmoedigheid is ’n gesindheid teenoor God “waarin ons al sy handelinge as goed beskou en daarom dit nie teenstaan of betwyfel nie.” ’n Nederige hart kom nie in opstand teen God nie. God se magtige woord wat in ons harte ingeplant is, is ’n betroubare bron van geestelike wysheid en krag. Dit is beskikbaar vir elkeen wat dit met nederigheid en ootmoed aanvaar.