Ons lees graag van groot terugvegpogings, mense, besighede of sportspanne wat mislukking in die gesig gestaar het en dan ’n ommekeer belewe. Die Ford motormaatskappy is ’n goeie voorbeeld. Gedurende die 1940’s wou die bestuur nie modernisering toelaat nie, en dit het die organisasie amper in duie laat stort. Die regering wou die besigheid oorneem, sodat die VSA se oorlogspoging nie daardeur skade sou ly nie. Maar toe Henry Ford II van sy militêre verpligtinge vrygestel is en die leiding kon neem, het hy daarin geslaag om die besigheid een van die grootste korporasies in die wêreld te maak. Soms het ons ook ’n terugvegpoging nodig. Ons moet verkeerde besluite hersien. Wanneer ons in sulke situasies verkeer, kan ons Petrus as voorbeeld neem. Hy was oënskynlik ’n algehele mislukking. Eers het hy byna verdrink toe sy geloof hom in die steek gelaat het (Matt. 14:30). Hy het dinge gesê wat so verkeerd was dat Jesus hom “Satan” genoem het (Matt. 16:22,23). En later het hy Jesus verraai (Matt. 26:74). Dis egter nie die einde van die storie nie. Petrus het deur die krag van die Heilige Gees ’n ommekeer gemaak. Op Pinksterdag het hy gepreek en 3000 mense het tot bekering gekom (Hand. 2:14,41). Hy het sy effektiwiteit teruggewen omdat sy geloof hernu is en hy vir Jesus opgestaan het. Worstel jy? As Petrus kan terugkeer, kan jy ook.