Het jy al ooit gevoel dat die lewe regtig onregverdig is? Ons wat die Here in alles probeer navolg, voel gefrustreerd as ons sien hoedat mense wat niks vir Hom omgee nie, ’n voorspoedige lewe lei. ’n Besigheidsman is oneerlik en tog doen hy baie goed. Die man wat voortdurend partytjies hou, drink en eet, is gesond, terwyl jy, of iemand wat jy liefhet en die Here dien, voortdurend siek is, of finansiële probleme ondervind. Dit laat jou soms voel asof jy verkul is en dat jy niks beteken nie. Indien jy ooit so voel, kan jy weet dat jy in goeie geselskap verkeer. Die skrywer van Psalm 73 vertel breedvoerig hoe die bose persoon voorspoedig is en dan sê hy: “Dat ek die kwaad vermy het … het dus niks gehelp nie” (Psalm 73:13). Maar namate hy oor alles nadink en sy verhouding met God oorweeg, kom hy tot ’n nuwe besef: Ek het “besef … wat die uiteinde van die goddelose is” (vs. 17). Wanneer ons tyd met God deurbring en in sy teenwoordigheid vertoef, verander ons siening van die lewe geheel en al. Ons mag nog jaloers op ongelowiges wees. Maar een ding is seker, by die oordeelsdag sal ons dankbaar wees. Soos die gesegde sê: “Wat help dit as jy die veldslag wen, maar die oorlog verloor?” Kom laat ons, net soos die Psalmdigter, die Here prys en dank vir sy teenwoordigheid in hierdie lewe en sy beloftes vir die lewe wat kom (vs. 25-28). Hy is alles wat ons nodig het, selfs al lyk dit asof die wêreld onregverdig is.