As kind was Tom Terrific een van my geliefkoosde televisieprogramme. Wanneer Tom ’n krisis in die gesig gestaar het, het hy sy dinkhoed opgesit en die saak saam met sy wonderhond, Mighty Manfred, oordink. Gewoonlik het al die probleme by Tom se aartsvyand Crabby Appleton, begin. Vandag kan ek nog onthou hoe hierdie skurk beskryf is. Hy was Crabby Appleton, die korrupte aartsvyand. Die feit is dat ons almal Crabby se probleem deel – sonder Christus is ons almal korrup. Paulus het ons toestand as volg beskryf: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie … daar is nie een wat na die wil van God vra nie” (Romeine 3:10,11). Nie een van ons kan aan God se standaard van absolute heiligheid voldoen nie. Daarom is ons van ’n heilige God geskei en moes Hy sy Seun Jesus stuur om aan die kruis te sterf en ons sonde en skuld op Hom te neem, begrawe te word en daarna uit die dood op te staan. Nou word ons “sonder dat [ons] … dit verdien op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:24). Jesus het gekom om die mens wat geheel en al van sonde deurtrek is, ’n “nuwe mens” te maak deur die geloof in Hom (1 Kor. 5:17). In sy goedheid het Hy ons probleem volkome opgelos – en ons tot in die kern gesond gemaak.