Ek het my vrou, Marlene, op kollege ontmoet. Ek het pastorale werk bestudeer en sy was besig om ’n graad in onderwys te verkry. Die eerste keer toe ek haar met kinders sien werk het, het ek geweet dat sy uitgeknip was vir hierdie taak. Sy was baie lief vir kinders. Dit het nog duideliker geword toe ons eers getroud is en kinders van ons eie gehad het. Om haar te sien terwyl sy met hulle besig was, was werklik ’n studie in onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Dit het vir my duidelik geword dat daar niks op aarde is wat vergelyk kan word met die tere liefde wat ’n moeder vir haar nuutgebore baba het nie. Dis die rede waarom Jesaja 49:15 vir my so ’n besondere betekenis het. Hier het die Here sy kinders wat moedeloos en eensaam voel, verseker dat sy deernis en liefde meer is as dié van ’n moeder (vs. 14,15). “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor haar kind … selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.” Somtyds gaan ons deur ’n tyd van worsteling en dan voel ons dat God ons vergeet het. Ons mag selfs voel dat God ons nie meer liefhet nie. Maar God se liefde vir ons is so wyd as wat Christus se arms aan die kruis uitgestrek was. En die tere liefde van ons Vader is meer betroubaar en ewig as selfs die liefde van ’n moeder wat haar kindjie aan haar bors vashou. Wees dus gerus – sy liefde sal nooit teleurstel nie.