Gedurende Mei 1884 het ’n jong egpaar ernstig verskil oor die middelnaam wat hulle aan hulle seuntjie moes gee. Die moeder het Solomon verkies en die pa Shippe –albei familiename. Omdat John en Marta nie tot ’n vergelyk kon kom nie, het hulle op “S” besluit. So het Harry S. Truman die enigste Amerikaanse president geword wat ’n voorletter as middelnaam gehad het. En nou, 120 jaar later, is ons nog bewus van die konflik wat geheers het en hoe ’n aanvaarbare oplossing gevind is. Ons lees in die Nuwe Testament van ’n ander verskil van opinie wat steeds in die geskiedenis voortleef. Dit was die onenigheid wat tussen Paulus en Barnabas ontstaan het (Handelinge 15). Barnabas wou Markus saam met hulle op die Tweede Sendingreis neem, sodat hulle kon gaan vasstel hoe die kerke wat hulle gestig het, vorder. Paulus het egter nie vir Markus vertrou nie, as gevolg van iets wat vroeër gebeur het (vs. 38) en gevolglik het Paulus en Barnabas van mekaar geskei (vs 39). Vandag, 2000 jaar later, lees ons steeds van hierdie onenigheid. Wat egter belangrik is, is nie dat dit in die geskiedenis voortleef nie, maar dat dit geen permanente skade aangerig het nie. Paulus en Barnabas is met mekaar versoen en in Paulus se laaste dae het hy gevra dat Markus by hom moes wees, omdat hy vir hom diensbaar kon wees (2 Tim. 4:11). Argumente ontstaan, maar sorg dat hulle opgelos word. Hulle veroorsaak laste wat te swaar is om te dra.