Ek het in die plattelandse gebied van Missouri opgegroei, die gebied waar die Amerikaanse krimineel, Jesse James, (1847-1882) gewoon en gewerk het. Ek en my vriende was oortuig dat hy iewers ’n skat begrawe het en ons het deur die woude gewandel met die hoop dat ons een of ander skat sou vind. Ons het dikwels ’n bejaarde man raakgeloop wat vuurmaakhout met ’n groot byl gekap het. Hy was op soek na leë blikke wat hy versamel het. Hy het die blikkies iewers vir geld ingeruil en dan na sy daklose, ongeverfde huisie teruggekeer met ’n bottel in ’n bruin papiersak. Na sy dood het sy familie bondels note in sy bouvallige huisie gevind. Soos daardie man wat sy skatte heeltemal geïgnoreer het, sal ons as Christene ook soms dele van die Bybel ignoreer en dit nooit lees nie. Ons vergeet dat die hele Skrif aan ons gegee is en dat elke paragraaf in die Bybel met ’n rede daar geplaas is. Wie sou ooit kon dink dat Levitikus soveel verborge skatte bevat? In sewe verse in hoofstuk 19 leer God ons hoe om vir die armes en gestremdes te sorg sonder om hulle te verneder (Lev. 19:9,10, 14), hoe ons ons besighede op ’n eerlike wyse moet bestuur (vs. 11,13,15) en hoe ons respek vir Hom in ons daaglikse lewe moet betoon (vs.12). Indien so ’n paar verse soveel skatte kan bevat, dink net wat ons alles kan ontdek as ons elke dag ons Bybel nadenkend bestudeer.