In Singapore word die seisoen van die Chinese Nuwejaar gewoonlik met sosiale en besigheidsetes gevier. ’n Besondere dis, bestaande uit slaaie, slaaisouse, piekels, atjar en rou vis word bedien. Die naam van die gereg, Yu Sheng is ’n woordspeling wat “jaar van voorspoed” beteken. Die gebruik is dat die teenwoordiges die slaaie meng en terwyl hulle dit doen, word sekere uitsprake gemaak, om goeie voorspoed te verseker. Ons woorde mag vir ander voorspoed en seën vir die toekoms toewens, maar hulle kan nie die voorspoed bring nie. Die belangrike saak is dit: Wat verwag God in die komende jaar van ons? In sy brief aan die Filippense spreek Paulus die wens uit dat hulle “liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling” (Filippense 1:9). Die gemeente was vir hom tot groot ondersteuning (vs. 7) en hy moedig hulle aan om aan te hou groei wat hulle liefde vir ander betref. Paulus het nie oor intellektuele kennis gepraat nie, maar die kennis van God. Liefde vir ander begin altyd met ’n nouer verhouding met God en as ons die Here beter ken, kan ons onderskei wat reg en wat verkeerd is. Om ander ons beste wense vir die Nuwejaar toe te wens is goed. Maar ons diepste gebed behoort te wees dat ons met liefde sal optree sodat ons “in die regte verhouding met God [sal] wees, tot sy lof en eer” (Filippense 1:11).