Jim het die evangelie met Kerrie gedeel en haar vertel dat sy van die heilige God geskei is as gevolg van haar sonde. Jesus het egter ter wille van haar sonde aan die kruis gesterwe en uit die dood opgestaan, sodat sy vergifnis kon ontvang. Maar elke keer het sy dieselfde rede aangevoer waarom sy nie kon glo nie: “As ek Hom as Verlosser aanvaar, sal ek ander mense van my sonde moet vertel, nie waar nie? En dit wil ek nie doen nie. En ek wil ook nie teenoor ander mense getuig nie.” Jim het toe verduidelik dat om te belowe dat sy sou getuig, nie ’n voorwaarde vir bekering is nie. Maar hy het ook gesê dat indien sy Jesus wel as Verlosser aangeneem het, sou sy ’n getuie vir Hom word (2 Kor. 5:20). Nadat hulle nog ’n rukkie gepraat het, het Kerrie erken dat sy verlossing deur Jesus Christus nodig het en Hom aangeneem. Sy het met vreugde in haar hart, huis toe gegaan en toe het iets eienaardigs gebeur – binne 24 uur het sy aan drie mense vertel van haar bekering en wat Jesus in haar lewe gedoen het. Omdat ons deur Christus met God versoen is, is “die bediening van die versoening” (2 Kor. 5:18) aan ons toevertrou. Ons is sy ambassadeurs en daarom pleit ons by mense “om die versoening met God wat Hy [Jesus] bewerk het” (2 Kor. 5:20) te aanvaar. As ons regtig dankbaar is, wil ons ander vertel wat God vir ons gedoen het.