Die Washington Post het onlangs berig dat studies oor die aard van vooroordeel getoon het dat byna almal van ons daaraan skuldig is en hierdie houding affekteer almal, selfs diegene wat hulle daarteen verset. ’n Sielkundige, verbonde aan die universiteit van Kentucky, beweer dat baie van ons selfrespek en eiewaan ontstaan omdat ons voel dat ons beter as ander is, vanweë die groep waaraan ons behoort. Vooroordeel kan nie maklik oorkom word nie, selfs nie in die familie van God nie. Paulus se woorde aan die Christene in Kolosse gee vandag aan ons raad. Hy sê dat ons optrede teenoor ander Christene ons eenheid in Christus moet reflekteer. “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens … Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie” (Kolossense 3:9-11). In plaas van om jouself hoër as ander te ag, en voortrekkery te beoefen, behoort ons “meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam [te] wees” (Kolossense 3:12). “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kolossense 3:14). In die liggaam van Christus is geen ras, of nasionaliteit of klas beter as die ander nie. Deur die kruis het Christus ons een gemaak en daarom moet ons mekaar met eerlikheid, eerbied en liefde hanteer.