Susan Boyle het die meeste van haar volwasse jare saam met haar katjie, Pebbles, deurgebring, terwyl sy haar bejaarde moeder versorg het. Sy het ook in die kerkkoor gesing. Maar sy het beslis nie gelyk soos ’n ster in die musiekwêreld nie. Dis waarskynlik waarom die gehoor gelag het toe hierdie nederige, middeljarige dame aan die talentkompetisie deelgeneem het. Sy het haar egter nie laat afsit nie, maar het pragtig gesing en uiteindelik is sy staande toegejuig. Stefanus is ook deur ’n vyandige skare gekonfronteer, kort nadat die eerste kerk tot stand gekom het (Hand. 6-7). ’n Paneel van geestelike leiers het geluister na wat oneerlike getuies oor hom gesê het en het hom van godslastering aangekla (Hand. 6:13). Stefans het egter gereageer deur die waarheid van die Woord te proklameer en dit het sy eie geloof versterk. Aan die einde van sy toespraak het hy uitgeroep: “Kyk … ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (Hand. 7:56). Die skare was woedend en het hom gestenig (Hand. 7:58). Jesus, wat alles vanuit die hemel dopgehou het, het hom daar verwelkom. Die meeste Christene word darem nie met hierdie mate van vyandigheid bejeën nie. Nogtans word ons opgeroep om vas te staan vir die Here, veral wanneer ons druk beleef (Filip 4:1). Ons mag nie dat ander ons monde snoer sodat ons nie vir Jesus getuig nie. Om te getuig is soms vir ander tot aanstoot, maar vir Hom welgevallig, en dis wat die meeste saakmaak.