Toe ek die federale gevangenis op die Alcatraz eiland besoek het, het ek onvergeetlike indrukke beleef. Toe ons toerboot die ankerplek genader het, kon ek sien waarom hierdie tronk, wat nou gesluit is, eens bekend was as The Rock. Later toe ek in die legendariese Big House gestaan het, het ek gestaar na die skrefies lig wat deur die getraliede vensters na binne val. Ek het ry op ry selle gesien, selle wat soos hokke gelyk het en wat belangrike persone soos Al Capone en Robert Stroud, die Birdman of Alcatraz, gehuisves het. Maar daar was iets anders wat my diep geraak het. Toe ek ’n spesifieke sel binnegestap het, het ek gesien dat die naam Jesus teen die muur geskryf was. In nog ’n sel het ’n Bybel op ’n rak gelê. Hierdie twee dinge het my diep en blywend geraak. Hulle het verwys na die belangrikste vryheid wat enige mens kan hê. Paulus het ook hierdie vryheid geken, toe hy gewag het om tereggestel te word. Terwyl hy in die gevangenis was, het hy ander gevangenes gehelp om te ontdek wat dit beteken om volkome vergewe en ’n geliefde kind van die Here te wees (Filemon 1:10). Getraliede vensters en toe deure dui op een soort gevangenskap. Fisiese probleme, verskriklike armoede en langdurige werkloosheid is ’n ander tiepe gevangenskap. Nie een van ons wil graag hierdie toestande beleef nie. Maar miskien is jy in nog ’n ander tronk vasgevang. Dis moeilik, maar nogtans sal nie een van ons gevangenskap saam met Christus wil verruil vir vryheid sonder Hom nie.