Ek het onlangs ’n begrafnisdiens van ’n begaafde musikant bygewoon, iemand wat baie mense deur haar musiek aangeraak het. Die huldeblyke aan hierdie dame het videos, foto’s en optredes deur musikante en sprekers ingesluit. Ek het later die beamptes bedank wie se foutlose werk die verrigtinge vlot laat verloop het. “Niemand het agtergekom wat julle doen nie,” het ek gesê. “Dis hoe ons dit verkies” het hulle geantwoord. In Matteus 6 beveel Jesus sy dissipels om te gee (vs. 1-4), te bid (vs. 5-6) en te vas (vs. 16-18) om God te behaag en nie om deur mense gesien te word nie. Hy het gesê: “As jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Matteus 6:6). Of jy dus gee, bid of vas, Jesus het gesê: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” (Matteus 6:4,6,18). Nogtans verlang ons dat ander mense sal sien wat ons doen en ons daarvoor sal prys. Alhoewel daar niks verkeerd is om bemoedig en waardeer te word nie, verskuif ’n voortdurend verlange na erkenning en waardering die fokus vanaf ander na onsself toe. Ons ontvang die eer en waardering. Indien ons nie openlik bedank word nie, voel ons teleurgesteld en heimlik ontevrede. Maar onthou net, alhoewel ons die Here in die geheim dien, geen erkenning of waardering ontvang nie, ons doen dit vir Hom. Hy sien alles en weet wat ons doen, en Hy sal ons beloon.