Norena se huis in Florida is erg beskadig toe orkaan Andrew in 1992 die gebied getref het. Sy het geld van die versekering ontvang en die herstelwerk het begin. Maar toe die geld opraak, het die kontrakteurs die werk net so gelos en ’n halfvoltooide huis sonder elektrisiteit agtergelaat. Vir 15 jaar het Norena met ’n klein yskassie en ’n paar lampe wat aan verlengingskoorde gekoppel was, oor die weg gekom. Eienaardig genoeg het haar bure skynbaar nie haar probleem agtergekom nie. Toe het die waarnemende burgemeester van haar probleem gehoor. Hy het dadelik ’n elektriese kontrakteur gekontak en binne ’n paar uur was haar probleem opgelos. Toe Jesus die Samaritaanse vrou by die put raakgeloop het (Johannes 4), het Hy dadelik in haar lewe betrokke geraak. Hy het met haar gepraat oor die feit dat sy geestelike krag nodig het. Hy het gesorg dat Hy haar op gemeenskaplike terrein ontmoet het, (water vs. 7) en Hy het haar belangstelling en nuuskierigheid gaande gemaak (vs. 9-14). Hy was hoflik en sensitief toe Hy haar met haar sonde gekonfronteer het (vs.16-19) en Hy het die gesprek by die belangrikste saak gehou (vs.21-24). Toe het Hy aan haar geopenbaar dat Hy die Messias is, dié Een wat sou kom (vs. 26) en hierdie optrede het baie ander Samaritane tot geloof in Hom gebring (39-42). Kom ons raak betrokke in die lewe van ander mense en vertel hulle van Jesus. Hy is die enigste Bron van geestelike krag en sal ons diepste begeertes bevredig.