Toe ons kinders nog jonk was, het ons die Adventstyd (die vier weke voor Kersfees) deurgebring deur elke aand na ete ’n blomkransie te maak en kerse aan te steek. Ons het ’n Kerslied gesing,’n kort gedeelte uit die Bybel oor die geboorte van Christus gelees en so ons harte vir die groot gebeure van Kersfees voorberei. Maar die Adventstyd is meer as net dit. Toe Christene dit in die vierde eeu na Christus begin vier het, het hulle dit nie net as ’n voorbereiding vir die geboorte van Christus beskou nie, maar ook as ’n tyd om vooruit te kyk en voor te berei vir die wederkoms. Hulle het hoop en bemoediging gevind in die wonderlike wete dat Hy weer terugkeer. Die evangelie van Lukas beskryf hoe “die heerlikheid van die Here” rondom die skaapwagters geskyn het, toe die engel die geboorte van die Verlosser aangekondig het (Lukas 2:9). Lukas kondig ook aan dat die Here weer sal kom “met groot krag en majesteit” (Lukas 21:27). Hierdie twee gebeurtenisse beskryf en omvat die rede waarom die Seun van God na hierdie wêreld gekom het. In Latyn beteken die woord advent ’n “terugkeer.” Die weke voor Kersfees kan ’n wonderlike tyd van verootmoediging en afwagting wees, wanneer ons die Heer se eerste koms na Betlehem, maar ook sy tweede koms in heerlikheid, gedenk. Christus het gekom en Hy kom weer as Oorwinnaar! Is ons gereed daarvoor?