Albei my oupa’s was ywerige tuiniers en so ook baie van my vriende. Ek is self baie lief daarvoor om tuin te maak, pragtige tuine inspireer my. As ek sulke lieflike tuine sien, dring dit my om ook iets so moois in my tuin te probeer skep. Maar ek het ’n probleem om vanaf inspirasie tot perspirasie, die sweet en arbeid, te kom. My wonderlike idees word nooit ’n realiteit nie, want ek spandeer nie genoeg tyd en energie om dit te laat gebeur nie. Dit kan ook in ons Christelike lewens waar wees. Ons luister na die getuienisse van ander en verwonder ons oor dit wat God in en deur hulle doen. Ons hoor pragtige musiek en luister na inspirerende preke en begeer om die Here meer toegewyd te volg. Maar sodra ons by die kerkdeur uitstap, is dit asof ons afskakel en dan is dit nie maklik om ons voornemens uit te voer nie. Jakobus beskryf sulke mense as diegene wat na hulleself in ’n spieël kyk, sien wat verkeerd is en tekort skiet, maar niks doen om dit reg te stel nie (Jak. 1:23-24). Hulle hoor die Woord, maar dit lei nie tot optrede nie. Jakobus sê ons moet doen en nie net hoor nie. Wanneer ons die punt bereik om die inspirasie wat die Woord gee en die goeie dade wat ander doen, te sien, en tot die daad oorgaan en goeie werke begin doen, sal die “ingeplante” Woord van God begin bloei en ’n pragtige tuin met geestelike vrug sal tevoorskyn kom.