Onlangs het ek depressief gevoel en gewonder hoe ek myself kon opbeur. Ek sien toe ’n boek in my boekrak en haal dit uit. Die titel was: Life Is Like Licking Honey Off a Thorn deur Susan Lenzkes en ek lees toe: “Ons neem die gelag en die trane, hoe hulle ook al mag kom, en laat ons Here toe om vir ons sin daaruit te maak.” Lenzkes sê sommige mense is optimiste wat “in plesier en goeie herinneringe kampeer” en die gebroke wêreld ontken. Ander is pessimiste wat fokus “op die verliese in die lewe en sodoende in die proses vreugde en oorwinning verloor.” Maar diegene wat realiste is “ontvang alles – die goeie en die slegte, en kies elke keer opnuut om te weet dat God ons regtig liefhet en dat Hy besig is om ons tot sy eer te vorm.” Terwyl ek gelees het, het ek deur die venster gekyk en die donker wolke gesien en dat reën saggies uitsak. ’n Rukkie later het daar ’n windjie opgekom en die donker wolke verdryf. Skielik was die hemel pragtig blou en wolkloos. Dis presies hoe dit met die storms van die lewe gesteld is. Hulle kom en gaan. Deur geloof hou ons aan God se belofte in Romeine 8:28 vas. En ons onthou dat “ons swaarkry in hierdie lewe … maar gering [is], maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref” (2 Kor. 4:17) God het ons lief en Hy berei ons voor vir die dag wanneer die lug altyd blou sal wees.