Christopher Reeve, die akteur, is verlam toe hy in 1995 van ’n perd afgeval en ernstig beseer is. Kort tevore het hy in ’n rolprent opgetree waarin hy die rol van ’n verlamde gespeel het. In sy voorbereiding vir die rol, moes hy ’n rehabilitasie sentrum besoek en hy vertel; “Elke keer wanneer ek daardie sentrum ingegaan het, het ek gesê: “Dank die Here dis nie ek nie.’” Na sy ongeluk het Reeve daardie uitspraak berou. “Ek het myself so van daardie mense gedistansiëer, sonder om daaraan te dink dat ek binne ’n paar oomblikke net so kon wees.” En hy was ook. Ons mag ook na die probleme van ander kyk en dink dit sal nooit met ons gebeur nie. Veral as ons lewensreis tot dusver suksesvol was, finansiëel en wat familiesake aanbetref. Dawid het erken dat hy in ’n oomblik van selfversekerheid in ’n lokval beland het en gevoel het dat niks hom kan ontwrig nie. “Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: ‘Niks sal my ooit laat wankel nie’”(Psalm 30:7). Hy het egter gou sy fout besef en onthou dat hy in die verlede teëspoed beleef het en deur God gehelp is. Daarom kon hy met geloof bely: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans” (Psalm 30:12). Óf God nou seën óf teëspoed oor ons pad bring, Hy verdien nogtans ons vertroue en dank. Hy sal ons nooit in die steek laat nie, want Hy is altyd getrou.