Toe ons verlede week aan tafel gesit het, het my oudste seun gekla dat sy sussie “altyd” doen net wat hy doen. Wanneer sy sy laggie namaak en haar skyfies eet voordat sy haar hamburger eet, irriteer dit hom en maak hom kwaad. Ek en my vrou probeer aan hom verduidelik dat dit hom ’n geleentheid bied om ’n goeie voorbeeld te stel. Anders as ons seun, het Paulus ander genooi om sy voorbeeld na te volg (1 Kor. 11:1). In hierdie teksvers voltooi hy sy uiteensetting van die vorige hoofstuk dat Korintiërs mekaar so lief moet hê dat hulle hulle eie vryheid ter wille van ander aan bande moet lê. Hy sê indien hulle genooi word om by ’n ongelowige te gaan eet, is hulle vry om te eet wat voorgesit word (vs. 27). Maar indien hulle vryheid om vleis te eet wat aan ’n afgod opgedra is, vir ’n ander ’n struikelblok kan wees, moet hulle hul vryheid opoffer ter wille van die swakker gelowige (vs. 28). Paulus het ander aangemoedig om sy voorbeeld wat hierdie saak aanbetref, na te volg, net soos wat hy Christus se voorbeeld volg. Hy het nie sy eie voordeel gesoek nie, maar die voordeel van ander deur Jesus se voorbeeld van liefde, eenheid, aanvaarding en opoffering na te volg. So word dit ook van ons verwag om Jesus se voorbeeld so getrou na te volg dat ons met vrymoedigheid kan sê: “Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg.”
Volg my
Lees: 1 Korintiërs 10:23-11:1 Die Bybel In Een Jaar: Psalm 81-83 Romeine 11:19-36
Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg. –1 Korintiërs 11:1
Lewe ’n lewe wat navolgenswaardig is deur Christus na te volg.
Toon my die weg, Heer, laat my lig skyn, Maak my ’n voorbeeld, helder en rein. Help dat ander U in my kan sien, En ook sal verlang om U te dien. –Neuer
Our Daily Bread Topics:
Uncategorized