Was jy al ooit regtig dors? Jare gelede het ek my suster, Mali in Wes- Afrika gaan besoek. Een middag het ons die besienswaardighede gaan bekyk en die temperatuur was 100 grade Fahrenheit. Ek was naderhand verskriklik dors en het gesê: “Jong, ek moet dringend iets kry om te drink.” Toe Kathy sê dat sy vergeet het om ’n voorraad gefiltreerde water saam te bring, het ek regtig desperaat begin voel. Hoe verder ons gery het, hoe meer het ek gewonder hoe dit moet wees om van dors te sterwe. Eindelik het Kathy gesê: “Ek weet nou waarheen ons kan gaan.” Sy het na die hek van ’n ambassade gery. Aan die binnekant was ’n verkoeler waarin water aangehou is. Ek het ’n papierbeker gegryp en dit weer en weer volgemaak. My liggaam was so gedehidreer en het baie water nodig gehad om die gevolge van dehidrasie teen te werk. Die psalmdigter vergelyk fisiese dors met geestelike dors. “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God” (Psalm 42:2). Sy dors was die desperate verlange na die enigste ware, lewende God (vs. 3). Verlang jy miskien na iets wat hierdie wêreld nie kan voorsien nie? Hierdie dors is ’n verlange van die siel, na die lewende God. O my vriend, hardloop na die Een wat daardie dors kan les. “Hy het die dors geles van dié wat versmag het, Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het” (Psalm 107:9).