’n Man het aansoek gedoen vir ’n betrekking en moes ’n vraelys voltooi. Een vraag lui toe: “Was jy al ooit gearresteer?” Hy skryf toe: “Nee.” Die volgende vraag was bedoel vir persone wat “ja” op die eerste vraag geantwoord het: “Waarom?” Die applikant antwoord toe: “Ek is nooit gevang nie.” Hy het geweet hy was skuldig aan baie. So ook die apostel Paulus. Hy het geweet hy het teen God gesondig. Hy skryf: “Ek [het] Hom voorheen belaster, vervolg en beledig” (1 Timoteus 1:13). Hy het homself “die grootste” (1 Timoteus 1:15) van alle sondaars genoem. Ons word ook van God geskei vanweë ons sondes en word as sy vyande beskou (Romeine 5:10; Kolossense 1:21). Maar toe ons ons sondes bely het en erken het dat ons sy vergifnis nodig het, het Hy ons vergewe, van sonde gereinig en ons volkome nuut gemaak en ’n nuwe lewe gegee. Diegene van ons wat lank reeds gered is en kinders van God is, mag miskien vergeet hoeveel die Here ons vergewe het en waarvan Hy ons alles gered het. Deur te erken wat in die verlede gebeur het en ons huidige tekortkominge te bely en God te dank vir vergifnis, sal ons help om nederig te bly en nie ’n “heiliger as jy” gesindheid teenoor ongeredde persone, te openbaar nie. Die waarheid is dat ons almal skuldig is aan baie en die Here verdien die dank en erkenning omdat Hy ons genade betoon en vergewe het.