In ’n kommentaar oor Prediker 9:15 het Martin Luther vertel van Themistocles, die soldaat en staatsman wat die Atheense leërmag gelei het. Deur sy strategie het hy die Slag van Salamis gewen, die Persiese leër van Griekse bodem verjaag en sy stad, Athene, gered. ’n Paar jaar later het hy egter in onguns geraak en is hy deur sy volksgenote uit Athene verban. Luther kom tot die gevolgtrekking: “Themistocles het baie goed vir sy stad gedoen, maar net ondankbaarheid as beloning ontvang.” Dit wil voorkom asof mense, om een of ander rede, gou die goeie dinge wat die arm en nederige man deur sy wysheid tot stand bring, vergeet. Maar dit maak nie saak nie. Nogtans is “wysheid … wel beter as krag” al word “die wysheid van die arme … geminag” (Prediker 9:16). Dis nogtans veel beter om ’n stille, eerlike persoon te wees, wat baie goeie dinge nalaat, al word jy na jou dood vergeet, as om ’n dwaas te wees, want “een misstap kan baie wat goed is, bederf” (Prediker 9:18). Gevolglik is dit wat belangrik is nie die erkenning en lofprysing wat ons ontvang vir dit wat ons gedoen en tot stand gebring het nie, maar die siele van die persone in wie se harte ons die sade van geregtigheid gesaai het. Anders gestel kan ons sê: “Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders” (Lukas 7:35 OV). Wie het jy al deur jou wyse en goddelike raad beïnvloed?