Gedurende die lente verlede jaar het ’n wipstert voëltjie gereeld een van die vensters in ons huis aangeval. Die voël sou op die vensterbank gaan sit, sy vere regskud, hard tjirp en dan kop eerste in die venster vasvlieg. Ek het ’n bietjie navorsing oor wipsterte gedoen en ontdek dat hulle terretoriaal is. Terwyl hulle broei sal hulle alle ander voëls verdryf. Die voël het skynbaar sy eie beeld in ons venster gesien en gedink dis ’n ander voël en daarom het hy die “opponent” aangeval. Maar die dreigement was ’n illusie. Ons lees ook in die Ou Testament van ’n geleentheid toe Jakob hom verbeel het dat hy bedreig word, maar dit was nie regtig so nie. Hy het jare tevore sy broer Esau se eersgeboortereg gesteel en sy vader se seën ontvang en nou, na jare van skeiding was hy bang dat Esau sou wraak neem en hom leed aandoen. Hy stuur toe allerhande geskenke vooruit om vrede te probeer bewerkstelling. Toe hy Esau egter met 400 man sien naderkom, het hy die ergste gevrees. Maar toe ontdek Jakob dat die groot groep manne eintlik ’n verwelkomings komitee was. “Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels … en hulle het gehuil” (Genesis 33:4). In interpersoonlike verhoudings gebeur dit soms dat ons ’n situasie verkeerd opsom. Ons moet die Here vra om ons wysheid te gee sodat ons nie as gevolg van ’n denkbeeldige dreigement ’n vriend verloor nie.